Press Statement dated 5 July 2019
“Die waarheid sal seevier”. Dit was die reaksie van die Nasionale Dagbestuur van die Suid Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), bestaande uit die president en die nege provinsiale voorsitters, rakende die media artikels en navrae oor die smeerveldtog wat gedryf word deur ‘n besigheidsman oor die etiese en finansiële bestuur van die Unie. “Die besigheidsman staar verskeie ernstige hofsake in die afsienbare toekoms in diegesig wat verband hou met ‘n klag van teistering en ‘n eis vir skadevergoeding op grond van lasterlike en onwaarhede bewerings wat hy ten opsigte van die SAOU versprei.”
Dit is waarskynlik die rede vir die voortsetting en verhoogde intensiteit van die smeerveldtog. Ten spyte van ‘n nasionaal uitgesaaide radio-onderhoud onmiddelik na die onlangse herhaling van aantygings wat reeds sedert vroeg in 2018 gemaak word, en wat omvattend en herhaaldelik aangespreek en weerlê was, was ‘n tweede smeerartikel gepubliseer op die 4de Julie 2019. Die radio-onderhoud is beskikbaar op die SAOU se webtuiste.
In verdere reaksie op die nuwe aanslag teen die SAOU, het die Nasionale Dagbestuur die volgende punte genoem:
1. Regter Hartzenberg het ‘n volledige geregtelike ondersoek in 2018 ten opsigte van die SAOU en SAEF gedoen wat meer as ses maande geduur het. Die volledige verslag is al vir ongeveer agt maande beskikbaar op die SAOU se webtuiste.
http://www.saou.co.za/saou-smeer-veldtog-saou-smear-campaign/
2. ‘n Volledige onafhanklike forensiese oudit was ter ondersteuning van Regter Hartzenberg se ondersoek uitgevoer gedurende dieselfde periode. Die beëdigde verklaring van die ouditeur met betrekking tot die uitslag van die forensiese ondersoek is ook beskikbaar op die SAOU se webtuiste.
In beide dokumente, wat in die publieke domein beskikbaar is, was die SAOU en sy ampsdraers vrygespreek van enige wanadministrasie of bedrog rakende SAOU-sake.
Verder beweer die onlangse media artikels dat die SAOU ondersoek word deur die Valke en die Departement van Arbeid. “Toe die saak van die Valke geopper was het die SAOU sy eie navrae en ondersoek gedoen en ontdek dat die bewerings van ‘n Valke-ondersoek verwys na ‘n fiktiewe polisie beampte en dat daar nie ‘n saak nommer bestaan nie”. Senior beamptes van die Valke was geraadpleeg en die SAOU se volle samewerking is aangebied, en sal dit steeds aangebied word, sou ‘n werklike ondersoek materialiseer.
Wat betref die betrokkenheid van die Departement van Arbeid het die SAOU volledig gereageer op alle navrae van die Departement. Sedert indiening ‘n geruime tyd gelede van die SAOU se reaksie op die navrae, het die SAOU geen verdere kommunikasie van die Departement ontvang nie.
Die SAOU bevestig ook onomwonde dat ongekwalifiseerde jaarlikse finansiële state, waarin geen voorbehoud hoegenaamd deur die ouditeure uitgespreek is nie, aan die Departement van Arbeid verskaf was in die vorige- en huidige jaar.
Die SAOU is ten volle bewus van die identiteit van die individue wat agter die smeerveldtog is, en beskou in die lig van die oorweldigende bewyse van weerlegging van die aantygings, die saak as afgehandel.
Issued by Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU)