Press Statement dated 1 June 2018

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) betreur die feit dat die georganiseerde professie nie deel was van die Ministeriële Geskiedenis Taakspan wat sy bevindinge aan Minister Motshekga op 31 Mei 2018 oorhandig het nie.

"Terwyl die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, haar tevredenheid uitgespreek het oor die gebalanseerde aard van die verslag, is die land volkome bewus daarvan dat die aanvanklike opdrag om die bestaande geskiedenissillabus in skole te ondersoek en hervorm, voortspruit uit 'n ANC-kongresbesluit. En ten spyte van die Minister se onderskeid tussen 'n 'politieke' geskiedenis en 'n 'politiek gedrewe' geskiedenis, vind die SAOU dit onverklaarbaar dat die verteenwoordigers van die mense wat die nuwe geskiedenissillabus in die klaskamers moet implementeer - die Georganiseerde Professie - in die aanvanklike navorsing nie betrokke was nie., "het Chris Klopper, Uitvoerende Hoof van die SAOU, gesê.

Klopper het verder gesê dat dit ironies is dat die vak Lewensoriëntering, wat tot op datum as sentraal tot die onderwyskurrikulum beskou is, en dus basies onaantasbaar is, nou oorweeg word vir verandering in die VOO-fase om Geskiedenis as verpligte vak te akkommodeer . "Dit maak min sin en kan die vraag gevra word, " wat het verander om hierdie verskuiwing in denke te skep? "

Ten spyte van alle oortuigings dat dit nie polities gemotiveerd is nie, het die saak van 'n nuwe Geskiedeniskurrikulum in skole sy ontstaan in 'n besluit van die regerende party en hopelik sal die nuwe sillabus as dit uiteindelik geformuleer word, nie 'n 'politieke geskiedenis' sal wees soos die geval in Zimbabwe nie.

Die SAOU vertrou dat die beoogde toekomstige konsultasieproses nie kosmeties sal wees nie, maar eerlik rekening sal hou met alle perspektiewe en inderdaad 'n ten volle inklusiewe toekoms vorm.

Die SAOU verbind hom tot so 'n proses in goeie trou, maar behou hom die reg voor om konstruktiewe kritiek en kommentaar te lewer.

(344

Issued by Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU)