Press Statement dated 15 January 2019

Dit is nou al algemene kennis dat een foto, wat ‘n enkele greep in ‘n skooldag uitbeeld , en wat daarna selektief vir politieke gewin misbruik is, tot groot ontwrigting by Laerskool Schweizer Reneke gelei het. Die stof het gewis nog nie in Schweizer Reneke gaan lê nie want die Noord-Wes Departement van Onderwys (NWDO) het opvoeders op Maandag en Dinsdag, 14 en 15 Januarie 2019, een vir een ondervra aan die hand van polities gelaaide leidende vrae. Die doel van die ondervraging was allermins om die objektiewe korrekte feite te bekom. Die onskuldige voorval by die betrokke skool is eerder uitgebuit om politieke munt daaruit te slaan.

Die SAOU het vooraf die moontlikheid van magsmisbruik, intimidasie en viktimisasie deur die NWDO voorsien en het daarom twee amptelike verteenwoordigers, met bewese regskennis, na die betrokke skool gestuur waar hulle die afgelope drie skooldae aanwesig was om te voorkom dat die regte van SAOU-lede vertrap word. Die SAOU het daarop aangedring om tydens ondervraging van lede teenwoordig te wees met die doel om te verseker dat die ware feite na vore kom en in die korrekte konteks geplaas word.

Die skoolhoof, die Gr R opvoeder in wie se klaskamer die gewraakte foto geneem is, sowel as die waarnemende departementshoof is onderwerp aan skerp ondervraging. Dit het duidelik uit die leidende en polities gedrewe vrae wat gestel is, geblyk dat die NDWO daarop uit was om die skoolhoof te etiketteer as ‘n onbekwame rassis wat nie behoorlike beheer oor sy personeel uitoefen nie. Hierdie poging was ‘n klaaglike mislukking.

Die flagrante perpetuering van die stereotipering van die skool en opvoeders wat in sekere media geledere plaasgevind het word ernstig betreur. Dit is duidelik dat die NWDO ook lustig hieraan deelneem. Dit is werklik bejammeringswaardig

Dit is algemeen aanvaarde en geykte opvoedkundige praktyk van klaskamerbestuur om nuwe leerders in Graad R, op hulle eerste skooldag in ‘n vreemde omgewing, gemaklik te laat voel deur hulle in taalverband te groepeer , dws om leerders op die eerste dag aanvanklik te plaas in ‘n posisie waar hulle gemaklik is en sit by leerders van dieselfde huistaal, en veral as hulle nie een van die skool se tale van leer en onderrig magtig is nie.

Die ondersoekbeampte van die NDWO het ook in die lyn van ondervraging gepoog om die tydlyn van die neem van die foto’s te manipuleer. Die ander foto’s waar leerders geïntegreerd saam speel en werk is eerder geïgnoreer omdat dit nie die bevooroordeelde politieke agenda pas nie. Daar is veral gepoog om te bewys dat die ander foto’s na die tyd gemanipuleer was om die skool en opvoeders te beskerm. Eweneens het hierdie poging tot verdagmakery nie die toets van die waarheid weerstaan nie.

Dit is duidelik dat die NWDO optrede niks meer is as ‘n kwalik bedekte poging is om hulle politieke meesters se politieke agenda in die verkiesingsjaar te bevorder nie. In plaas van om hulle werknemers billik en ewewigtig te hanteer, is daar eerder ‘n heksejag geloods om ‘skuldiges’ te identifiseer en sonder om enigsins die werklike feite in ag te neem, te laat verhoor en skuldig te bevind in die hof van openbare mening.

Daar word nou via die media verneem dat die NWDO verdere opvoeders wil skors. Die SAOU stel dit onomwonde dat die vertrapping van opvoeders se Grondwetlike en arbeidsregte onder geen omstandighede geduld sal word nie. ‘n Span van senior regslui is reeds op ‘n gereedheidsgrondslag om SAOU-lede by te staan en indien nodig , in gepaste forums op ‘n dringende basis ten behoewe van lede op te tree ten einde hulle regte te beskerm. Die NWDO moet kennis neem van die feit dat spesiale punitiewe kostebevele teen indiwidue persoonlik wat daarvoor verantwoordelik is, geëis sal word indien SAOU-lede op onregmatige wyse hanteer word.

Die betrokkenheid van die Menseregte Kommissie word verwelkom. Daar word ‘n beroep op die ondersoekbeamptes van die kommissie gedoen om alle skendings van menseregte in hierdie sage te ondersoek en nie net selektiewe aspekte te beklemtoon nie. Hulle is dit aan die Onderwys in die breë verskuldig!

Issued by Issued by Chris Klopper, Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU)